Friday 18 January 2013

Wat is fout met my roos.

Ek het op die artikel af gekom. Dit is n goeie riglyn om te verstaan wat jou rose in jou tuin nodig het.

Wat makeer my roosboom?

As jy jou roos se siekte of voedingstekort betyds identifiseer, kan jy dit gou regstel en die skade beperk.
Blaaspootjie Dié klein insekte vreet die rande van die blomblare. Spuit met insekdoder of voeg knoffelpoeier by jou spuitmengsel, want hulle hou nie daarvan nie.

Botritis (vaalvrot) is ’n swam wat in warm, klam toestande floreer. Die eerste tekens is klein pienk kolletjies op die blomme, en dan verrot die blom. Gebruik Funginex en spuit die plante in die winter met kalkswael om moontlike swamspore te dood.

Swartvlek is ’n hardnekkige swamsiekte wat met reënweer en swaar dou kop uitsteek. Spuit met Sporgon of Coppercount-N, of spuit voorkomend met Dithane WG, wat ook donsskimmel sal voorkom.
Stamkanker kom veral voor nadat die onderste deel van die plant sonbrand opgedoen het. Sny die aangetaste deel van die stam heeltemal weg en gee vir die plant ’n goeie deklaag. Soms veroorsaak laat ryp dat die son die bevrore plantweefsel te vinnig warm maak. Spuit die plant met een deel kalkswael en vyf dele water. Die wit wat agterbly weerkaats die son en hou dus die plant koeler.
Geel blare beteken droogte – ’n deklaag en genoeg water is die antwoord.
Vrugtekewers is agter die geur van die blomme aan en vreet die blomknoppe. Ludwig beveel ’n piesangval aan: Sny ’n paar groterige gate in die kant van ’n afgesnyde tweeliter-koeldrankbottel en maak aan die onderkant dreineringsgate vir die reën. Sny vars piesang daarin en hang die bottel by jou rose aan ’n hoë paal of heining op. Die vrugtekewers sal eerder die piesangs as jou rose eet, en moet gereeld uit die bottel gehaal en doodgemaak word. Vervang die piesang gereeld.

CMR-kewer – dieselfde as by die vrugtekewers.
Amerikaanse bolwurm vreet die blom in sy knopstadium van binne af. Die middel van die blom, asook die blomblare, is dan vol gate wanneer dit oopgaan. Motte lê snags hul eiers op die knoppe. Spuit die knoppe met Ripcord of Karbasol om van die wurms ontslae te raak.
Dopluis is moeilik om uit te roei. Dit moet verkieslik net nadat die plant gesnoei is met Oleum afgevryf word. By rose is dopluise ’n teken van ’n swak ontwikkelde wortelstelsel by die plant. Dan moet jy die plant in ’n groter houer plant, of jy moet baie kompos, grondboontjiedoppe en selfs growwe riviersand in jou bedding inwerk.
Rooispinmyte val jou plant in warm weer aan nadat die plant droogte gely het. Hulle is moeilik om uit te roei, omdat hulle aan die onderkant van die blare broei en leef. Jy moet dus die onderkant van die blare bespuit. Daar is baie kommersiële spuitstowwe vir rooispinmyt. Jy kan ook ’n koppie suiker in vyf liter water kook, dit laat afkoel en dit op die rooispinmyte spuit – dit versmoor hulle. Moet dit net nie te dikwels doen nie, want dit belemmer die verdampingsproses van die plant.
Mosaïekvirus veroorsaak geel are op die blare. Sny die aangetaste dele van die plant af en ontsmet jou snoeiskêr. Verbrand die afgesnyde takke.
Plantluise kan maklik beheer word met Ludwig Taschner of Margaret Roberts se organiese insekdoders wat landwyd by tuinsentrums en afdelingswinkels beskikbaar is. Die liewenheersbesie en hotnotsgot is goeie goggas wat graag plantluise vreet.
Poeiermeeldou kan jy hokslaan met Rosecare of Bayleton A. Jy kan ook ’n organiese spuitmiddel maak deur ’n mengsel van koeksoda en Oleum of Citrex.
Magnesiumtekort Voeg een maal per jaar ’n eetlepel Engelse sout (magnesiumsulfaat) by die grond rondom elke roosboom.
Ystertekort Die are van die blare bly donkergroen, en die res van die blare is geelgroen. Dit beteken die grond is te dig rondom die wortels en daarom kan die wortels nie die yster opneem nie. Dit kan ook gebeur as gevolg van oormatige besproeiing (verdrinking). Sulke toestande kan ook dui op ’n tekort aan stikstof (donkergroen are en ligte geelgroen blare), fosfor (blare het donkergroen rande en donkerbruin vlekke in die middel) of kalium (donkerbruin randjies en groen en geel gevlek in die middel). Maak die grond rondom die plante goed los, voeg kompos en grondboontjiedopppe by die grond, en voed die plante met ’n roosvoedsel wat al die noodsaaklike elemente bevat, soos Phostrogen of Chemicult van Starke Ayres.
Droogte Elke roosplant moet weekliks minstens twintig liter water kry. Onthou dat rose na dae se reën as’t ware eers van die water “afgespeen” moet word, en nie dadelik net weer in hulle ou natmaakpatroon sal wil inval nie.

Hittestres Bruin vlekke vorm in die middel van die blare. Hou veral houerplante vir hierdie simptoom dop, en gee genoeg water. Sorg dat daar ’n dik deklaag onder jou rose is.

Wolluis Dié goggas suig die sap van jong groei en veroorsaak dat die plant doodgaan. Spuit met Ripcord of Aphicide.

Onkruiddoderskade Die misvormde blare word veroorsaak deur onkruiddoders wat jy iewers anders in jou tuin gespuit het. Sorg dat jy nooit op ’n winderige dag onkruiddoder of enige ander gif spuit nie.

No comments:

Post a Comment