Tuesday 11 September 2012

Roos Mites

Ek het toevallig in die nuwe Tuis tydskrif die raak gelees en dit is baie interessant aangesien dit die tyd is vir rose plant. Hoop julle geniet dit net so baie soos ek.

5 roos-mites

Die kweek van rose word deur allerhande mites omhul. Dit skep die wanindruk dat dié aktiwiteit net moeite en verdriet is. Bobaas-rooskweker Ludwig Taschner ruim van die gevestigde ouvroustories uit die weg.
MITE 1 Wanneer jy snoei, moet jy altyd aan die buitekant van ’n ogie sny.
Dis nie nodig nie, aangesien die roos self besluit waar en hoe hy ’n botsel wil uitstoot.
MITE 2 Wanneer jy ’n roos pluk of snoei, moet die snit altyd teen ’n hoek en ’n spesifieke afstand van die ogie af wees.
Jy kan reguit óf teen ’n hoek sny. Reguit is beter, want dan word ’n kleiner deel van die stam aan die elemente blootgestel en is die wond kleiner. Sny maar redelik naby die ogie, maar moet jou nie te veel oor die presiese afstand bekommer nie.
MITE 3 Dis absoluut noodsaaklik om rose te snoei.
Ons snoei rose omdat ons wil hê hulle moet ’n mooi, netjiese vorm hê. Daarom verwyder ons ou of dooie hout en enige takkiesrige groeisels. Jou roos sal goed klaarkom sonder ’n snoeiery – trouens, hy snoei homself deur ou en lastige groeisels te laat afsterf. Dit lyk net vir ons onnet.
MITE 4 Nadat jy gesnoei het, moet alle snitte geseël word om te keer dat insekte in die stam boor.
Jy gaan nie noodwendig boor-insekte uithou deur te seël nie; hulle gaan eenvoudig laer af in die stam se sykant boor. Spuit eerder met Ludwig’s Insect Spray of Garden Ripcord onmiddellik nadat jy gesnoei het, en daarna voorkomend deur die loop van die roosseisoen.
MITE 5 Rose wat nie floreer nie, moet teruggesnoei word om nuwe groei aan te wakker.
Die kanse is groter dat jy ’n sukkelende roos sal doodmaak deur dit terug te snoei of ekstra kunsmis te gee. Die doel moet wees om die struik se blare te vermeerder, aangesien dit die wortelstelsel versterk. Die beste manier om dit te doen is om die punte van alle nuwe groei af te knyp. Dit laat druk in die stam opbou, wat dormante ogies aanmoedig om uit te loop en basale lote laat vorm. Jy kan een of twee, selfs drie keer terugknyp, maar as die struik nie na wense reageer nie, is die beste raad om hom uit te haal en met ’n nuwe een te vervang.
myths

No comments:

Post a Comment