Monday 17 September 2012

Kompos

Ek dink die laaste tyd baie daaraan om my eie kompos hoop te begin. Het vandag die artikel gekry in die beeld oor kompos. Hoop julle geniet.

Kompos, die swart goud van die aarde

2012-09-13 23:00
Dis nie moeilik om self kompos te maak nie. Foto: Geoff Redman


Een van die basiese noodsaaklikhede van suksesvolle tuinmaak is brokkelrige, vrugbare grond en dit kan net bewerkstellig word deur voortdurend ’n mildelike vrag kompos by te voeg, skryf Anna Cilliers.

’n Mens hoor dikwels dat tuiniers kla hul grond is kliphard en dat dit uiters moeilik is om ’n plantgat vir ’n boom of struik daarin te maak.
In ’n poging om dit bewerkbaar te probeer maak, spit hulle dit dan vir die vale om.
Die probleem met klipharde grond is die regstreekse gevolg van te min organiese materiaal (kompos) wat teenwoordig is.
Om dit te probeer regstel met ’n gedurige omspittery vererger die swak struktuur daarvan, veroorsaak dat voordelige grondorganismes wat help met deurlugting en die afbreek van voedingstowwe blootgestel word aan die son en dat dormante onkruidsade vinniger ontkiem.
Boonop verloor ’n mens baie grondvog en dan moet die krane weer oopgedraai word.
Met die gereelde toediening van kompos kan jy die meeste van jou tuinmaakkopsere uitskakel.
Dis doodmaklik om kompos self te maak en die bestanddele daarvan is boonop meestal gratis.

Waar moet die hoop kom?
Maak jou kompos uit die oog in ’n sonnige hoekie van die tuin en verkieslik naby ’n kraan.
Span groot houtkratte (soos deur vrugteverpakkers gebruik) in of bou jou eie vierkantige houer.
As jy genoeg plek het, kan jy meer as een houer oorweeg vir kompos in verskillende sta­diums van ontbinding.
Om ’n komposhoop direk op die grond te maak werk ewe goed omdat die grondorganismes soos erdwurms toegang daartoe het en bydra om die plantmateriaal vinniger af te breek.
Moenie die komposhoop groter as sowat 1 m x 1 m maak nie, anders neem dit lank vir die materiaal om af te breek.
Onthou, daar is ook spesiale komposmakers by kwekerye en ysterwarewinkels te koop wat ideaal is vir klein tuine.

Wat kan gebruik word?

- Grassnysels in dun lae
- Ou blare in dun lae
- Snoeisels van heinings, struike en rose – in fyner stukkies gesny
- Enige dooie plantmateriaal, mits dit nie besmet is met fungussiektes nie. Siek takke en blare moet liefs weggegooi of verbrand word.
- Uitgeblomde jaarplante
- Vrugte- en groenteskille
- Dun lagies strooi
- Onbehandelde boombas
- Houtsaagsels
- Natuurlike vesels en klein stukkies koerantpapier
- Kruieknipsels
- Bees-, vark- en hoendermis
- Afval uit voëlhokke
- Teesakkies en koffiemoer
- Fyngedrukte eierdoppe
- Klein hoeveelhede hout-as.

Wat hoort nie gebruik te word nie?
- Plastiek
- Glanspapier soos tydskrifbladsye
- Blikke, glas, ou klere en afvallappe
- Gaar oorskietkos
- Onkruid met saadkoppe aan
- Houtskool- en steenkool-as
- Honde- en katmis.

Maak só
’n Komposhoop word gebou soos wat ’n mens koekstruif sou maak: Alles word in lae gepak.
Gooi eerste ’n laag van sowat 25 cm diep growwe tuinafval soos snoeisels en takkies. Gooi dan 5 cm kraalmis, hoendermis en fyner tuinafval soos grassnysels, blare, dooie eenjariges en kombuisafval by. Gooi volgende ’n 5 cm-laag gewone tuingrond, ou potgrond en ’n bietjie growwe riviersand op die hoop.
Laaste moet jy komposaktiveerder oor die hele oppervlakte van die hoop strooi. ’n Mens kan organiese komposaktiveerders by kwekerye koop of jou eie “aanhits”-konkoksie maak: Kap die blare van nieskruid, brandnetel of smeerwortel fyn en strooi dit tussen elke derde laag. Die opgekapte blare kan ook in ’n emmer water getrek en oor die nuwe komposhoop uitgegooi word.
Kraal- en hoendermis is ook goeie komposaktiveerders wat onverwerkte organiese materiaal vinnig tot ryk humus afbreek. Herhaal al die lae totdat die hoop sowat 1 m hoog is.

Wenke
Bedek die komposhoop in koue weer met ’n ou stuk mat of onkruiddoek wat hitte inhou. Dit sal die verrottingsproses verhaas. Lugsirkulasie en suurstof is baie belangrik – gebruik ’n stok en steek gereeld van bo gate in die hoop. ’n Komposhoop moet klam gehou word, maar nie sopnat nie, anders sal dit vrot.
As die hoop vir lange tye te droog raak, stop die verrottingsproses. Sprinkel dus die hoop af en toe liggies nat.
Jy moet ook terwyl jy besig is om die hoop te bou die materiaal effens natmaak met ’n tuinslang.
Keer die hoop elke twee tot drie weke om, of roer die materiaal ’n bietjie vir goeie belugting. Dit behoort ongeveer drie maande te duur voordat die kompos gebruik kan word.
’n Slegte reuk in die omgewing beteken gewoonlik dat die hoop te nat is en dat daar ’n gebrek aan suurstof is. Keer dit om en gooi nog growwe mate­riaal by. As die ontbindingsproses te stadig plaasvind, kan nog kraalmis en aktiveerder bygevoeg word.

Gebruik kompos só
Strooi dik lae van die kompos, wat swart van kleur sal wees en “skoon” ruik, in jou struikbeddings. Dit hoef nie ingespit te word nie; die grondorganismes sal dit mettertyd inwerk.
Met ’n deklaag van kompos bly jou grond nie net langer klam nie, maar word ook sag, brokkelrig en makliker bewerkbaar. Dit help ook om die ontkieming van onkruidsade te onderdruk.
Gooi elke keer wanneer jy nuwe struike plant ’n paar grawe vol kompos in die plantgat en gooi ’n bietjie as deklaag oor die wortelstelsel. Moenie toelaat dat kompos te dik teen die stamme van plante lê nie; dit kan verrotting veroorsaak.

No comments:

Post a Comment